Skip to main content
KRAAKVARS! Aanlyn blitssepie begin eersdaags op Netwerk24
‘n Superryk-gesin word deur die patriarg se skielike dood geruk. ’n
Ambisieuse oudste broer, ’n vredemaker-suster en hul rebelse boetie kom
saam met hul pa se jong lewensmaat bymekaar vir die lees van die
testament.
Maar daar wag ’n string verrassings op hulle . . .
Dít is waarheen intekenare kan uitsien wanneer Netwerk24 binnekort sy eerste aanlyn blitssepie begin uitsaai.
Die Testament sal van 2 September tot November elke weeksdag op Netwerk24 uitgesaai word. Intekenare kan dus vir drie maande op weeksdae na ’n episode van vyf minute kyk.
“Van al ons nuwe projekte maak dié een my waarskynlik die meeste opgewonde,” sê Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24.
“Al hoe meer mense begin TV-vermaak stroom en dit maak net sin dat ons dit ook as deel van ons pakket sal aanbied – in ’n blitsformaat van vyf minute per episode sodat mense dit maklik in hul dag kan inpas en enige plek op hul rekenaar of slimfoon daarna kan kyk.”
Loubser sê dis ’n storielyn wat kykers enduit sal boei. “Ek kon Die Testament se draaiboek nie neersit toe ek begin lees nie. Ons vennoot VIA sorg saam met die vervaardigers vir ’n eersteklasproduk. En hoe bevoorreg is ons nie om Sandra Prinsloo, Rolanda Marais en Nico Panagio al drie saam in die rolverdeling te hê nie!”
Nico Panagio speel die rol van die “volmaakte seun” Bastian. Teenoor hom speel Rolanda Marais die rol van Annchen, die sussie wat die gesin bymekaar probeer hou. Die jong opkomende akteur, Andahr Cotton, speel die rol van die laatlamboetie en musikant, terwyl Amrain Ismail-Essop die rol van Sandra Maritz vertolk, die afgestowe patriarg se lewensmaat van die afgelope vyf jaar.
Sandra Prinsloo maak ’n paar verskynings in die rol van die loan shark, Natasja Ludick.
“Omdat VIA beperk is tot inhoud in die leefstylgenre, het ons die plan juis bedink om ons vlerke te sprei in die wonderlike wêreld van teks-TV,” sê Izelle Venter, kanaalhoof van VIA.
“Week ná week wys TV-syfers hoe lief mense vir sepies is – ons het dié aanlyn sepie uitgedink om te pas by die vinnige wêreld van digitale inhoud. Met Netwerk24 as een van ons mediasusters was dit doodeenvoudig ’n onafwendbare sinergie.’’
Sy voeg by: “Die enorme hoeveelheid televisie- en video-materiaal wat aanlyn beskikbaar is, maak kykkeuses amper moeiliker. Ons wou dit vir Afrikaanse gehore makliker en lekkerder maak – hier is ’n vermaaklike storie van vyf minute elke weeksdag wat jy sommer kan kyk terwyl jy wag vir die ketel om te kook of as jy wag vir die kinders by die rugbyoefening. En met groot name op ons akteursrol soos Rolanda Marais en Nico Panagio, wie kan dit weerstaan?”
Comments
Post a Comment